Tuesday, September 4, 2007

Omsendbrief: 4 September 2007

~~~~~~~~~~~~~~~~~~
Uit die Hoof se kantoor
~~~~~~~~~~~~~~~~~~
ENTOESIASME!
Wanneer entoesiasme jou tref, wéét jy sommer, want jy wil op en af spring en in vreugde uitroep. Dit is ‘n oomblik wanneer jou hart voel of dit sweef, want jy is opgewonde oor iets wat jou diep binne-in inspireer. Entoesiasme is wanneer jou hele wese in opwinding uitroep, en jy daardie “JA!!!” hier diep binne-in jou voel opwel. Dit is een van die heel beste emosies in die wêreld.

Vandag, ongeag wat jou brein vir jou mag sê, soek met jou hart na plekke, geleenthede, idees, mense en aktiwiteite wat jou hart daardie ware “JA!” laat uitroep. En spandeer dan ‘n oomblik om te besluit hoe jy meer van hierdie dinge in jou lewe kan inbring. Maak ‘n belofte aan jouself dat jy daardie dinge sal doen wat jy nodig het om ‘n meer entoesiastiese lewe te lei. Wanneer jy entoesiasties is, sien jy uit na ‘n iedere en ‘n elke dag. En dít is wat die lewe so lekker maak!

Lekker week!
Ferdie Maree

~~~~~~~~~~~
Spesiale Berig
~~~~~~~~~~~
Baie geluk aan die Senior Revue wat Woensdag 29 Augustus aan die Spektrum-kompetisie deelgeneem het. Hulle het ‘n eerste plek onder die deelnemende 8 skole behaal. Ons is so trots op julle!! Julle het ons skool se naam hoog gehou ~ nogmaals geluk!

~~~~~~~~~~~~~~~~~
Neem asseblief kennis
~~~~~~~~~~~~~~~~~
1. WEEKSBEPLANNING
Vir die week se gebeurlikhede, kyk op ons kalender.

2. LOSLITDAG
Op Vrydag 7 September vier die Laerskool Rooihuiskraal weer op sy eie manier Loslitdag. Ons reik uit na ons eie behoeftige maats in ons skoolgemeenskap. Jou bydrae van R5 kan en sal ‘n verskil maak! Betaal die geld voor of op 6 September by jou klasonderwyser in. Kleredrag: Jou skoolhemp, ‘n mooi blou denim en jou wit tekkies.

3. POTJIEKOS!
Lente is in die lug en ons hoop die weer en die rugby gaan volgende Vrydag 14 September netso mooi saamspeel. Baie dankie weer eens vir almal se harde werk en insette tot dusver gelewer. Alle kaartjies of gelde moet asseblief eerskomende Maandag 10 September by die klasonderwyser inbetaal wees, sodat ons getalle kan vasmaak. Ons sien daarna uit om u die 14de te sien, en lekker saam te kuier!

4. GHOLFDAG ~ BAIE DANKIE!
Baie dankie aan almal wat aan ons jaarlikse Gholfdag op 28 Augustus deelgeneem het, dit was 'n groot sukses. Dankie aan ons borge: McCarthy Toyota, Bosal lugversorgers (Johan van der Westhuizen), Builders Warehouse Centurion, Makro Centurion, Dr. Clive Landman van Medipark en SIT Investment Holdings, Oasis Roodepoort, Niel Carlsen, Hoërskool Zwartkop, Dent Doctor Hennopspark en PVM energiestafies.

5. LAERSKOOL ROOIHUISKRAAL OP DIE WEB!
Dit is met groot trots dat ons ons nuwe webwerf bekendstel! Kyk gerus by www.laerskoolrooihuiskraal.co.za om elke dag die varsste nuus te lees. Die nuusbrief is ook elektronies beskikbaar hier by laerskoolrooihuiskraal.blogspot.com ~ maklik bereikbaar vanaf ‘n skakel op ons hoofwerf. Ons epos steeds die nuusbrief aan al ons ouers wat dit graag elke Dinsdag in hul inboks wil ontvang. Rooi is reg, en ons hou dit so!

~~~~~~
Kultuur
~~~~~~
1. ENTREPRENEURS
Vrydag 7 September hou ons Top-Entrepreneursmark vir Gr 2-4! Uitpak begin om 07:45 tot 08:00. Alle stalletjies sal op die stoepe by die aantreeblad wees: Gr 2 voor die kunsklas, Gr 3 vanaf die skoorsteen voor die paviljoen, Gr 4 voor die laboratorium tot by die snoepie.

Beoordeling: ‘n Verteenwoordiger van die ATKV kom met die beoordeling help, en sal ook foto’s neem van 08:00 tot 08:15.

Verkope vind plaas van 08:15 tot 08:45, en oppak is tot 09:00. Kom doen baie moeite met julle stalletjies en portefeuljes! In die verlede het die Streekwenners slegs sertifikate gekry. Vanjaar word 14 Gauteng Streekwenners van Gr 1-3 gekies, en elkeen ontvang R1000-00! Vyf Gr 4-7 leerders word as finaliste gekies, wat vir 3 dae saam met hulle ouers in ‘n spoghotel sal tuisgaan terwyl hulle hul stalletjies uitstal. Prysgeld is R6000-00 vir die eerste prys, R4000-00 vir die tweede prys, R3000-00 vir die derde prys, en R1000-00 vir elke finalis! Die ATKV verwag nie hierdie jaar so baie inskrywings soos verlede jaar nie. Dit maak ons kans om nog ‘n slag te wen, BAIE groter! Ons skool het verlede jaar R10 000-00 gewen ~ kom ons doen dit weer!

Onthou asseblief alle Gr 5-7 portefeuljes moet op die laatste Woensdag 5 September by Juf Marinda Meyer in wees (dis môre). Gr 2-4 portefeuljes moet op Vrydag 14 September in wees. Die ATKV kom dit Dinsdag 18 September haal, en daar is genoeg tyd nodig om dit nog te stempel en te verpak.Rooimiere, ons is die Top-Entrepreneurskool in die land! Vir enige navrae, kontak Marinda Meyer by 082-330-8104.

2. DIE VOORTREKKERS
Kommando Kamp!
Alle Vories: Hierdie naweek! 7-9 September by die Klip Kasteel! Dit is ‘n regte klipkasteel!! Ons vertrek Vrydagmiddag so 17:00 om seker te maak dat al die ma’s en pa’s wat wil saamgaan dit ook kan maak. Dis so net oor ‘n uur se ry as die verkeer saamspeel. Wel, sonder om al die geheime weg te gee gaan ons lekker kuier, geesbou en allerhande interessante en lekker aktiwiteite in die natuur saam doen. Ons aandprogramme beloof om iets baie spesiaals te wees en ‘n belewenis vir elkeen. Vir meer inligting en om saam te kom skakel asseblief vir Burnie Nawn 072-134-5352. KOM SAAM!!

3. REDENAARS
Baie geluk aan Eliska Wentzel wat 92% tydens die eerste Radikale Redenaarsfees 2007 gekry het!

~~~~~
Sport
~~~~~
1. KRIEKET
Die krieketdatums vir volgende week verskyn op die kalender. Uitslae van die afgelope wedstryde is soos volg. Baie geluk aan ons spanne wat so pragtig speel!
o/9A ~ wen
o/10A ~ verloor
o/10B ~ verloor
o/11A ~ wen
o/11B ~ verloor
o/12A ~ wen
o/12B ~ verloor
o/13A ~ verloor
o/13B ~ verloor

2. HOKKIE
Sjoe, wat ‘n naweek! Nie net het ons gebraai in die hitte nie, maar Die Laerskool Rooihuiskraal het weer eens vir ‘n menigte skole gewys waar Dawid die wortels gegrawe het. Ons Hokkie Bokkies het omtrént gespeel en sommer baie wedstryde gewen. Die o/10A-span het 3 wedstryde gespeel en al drie gewen. Die o/10B-span het 4 wedstryde gespeel: 2 gewen, 1 gelykop en 1 verloor. Ons wil net hier noem dat hulle Wierdapark 6-0 gewen het ~ ‘n amperse kriekettelling! Die o/10C-span het 3 wedstryde gespeel: 1 gelykop, en tweede in die ander twee. Ons o/8-spannetjie het ook deelgeneem. Hulle het 3 wedstryde gespeel: 1 gelykop en tweede in die ander twee. Die o/12’s het ook tweede geëindig in hul voorlaaste ligawedstryd. Hulle het Vrydag ook gespeel en gelykop gewen.

En dan, ‘n staande applous vir ons o/13’s! Hulle het sonder veel moeite Saterdag vir Skuilkrans gewys dat Rooihuiskraal bobaas hokkie kan speel deur hulle 4-0 te wen. Dit was dan ook hul heel laaste wedstryd gewees. Hulle het hierdie seisoen 5 ligawedstryde gespeel: 1 het die ander skool gekanselleer, so ons het die punte gekry; 3 het ons gewen; en 1 is gelykop gespeel. o/13’s, julle was ‘n FANTASTIESE span hierdie seisoen! Dankie dat julle ons skool se naam hoog gehou het!

Baie sterkte aan ons o/12’s wat hul laaste ligawedstryd Vrydag speel. Ons hou al ons duime en tone vas. Sterkte ook aan die o/8- en o/10-spannetjies wat hul laaste Feestoernooi by Hoërskool Uitsig speel. Ons hou vir julle ook duime en tone vas!
Hokkiegroete, Juffrou Jennie

3. BEVCRIC
Die Bevcric (Rooihuiskraal Krieketakademie) o/7- en o/8-spanne oefen elke Woensdag om 17:00. Kontak Hannes Maasdorp by 083-337-8025 vir navrae.

4. TENNIS
Ons Oopseuns Ligaspan het teen Constantiapark verloor met 25-30. Ons hou vir julle duim vas vir volgende keer!

AANDAG ALLE GR 4-7 TENNISSPELERS: Almal wat afrigting kry of tennis kan speel, julle is welkom om te kom oefen op die tennisbane by die biblioteek, Donderdae vanaf 14:00-16:00. Ek is juis op soek na spanne vir die liga in Februarie 2008. Kom asseblief!
Groete, Juffrou Amanda Prinsloo

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
Ons is trots op ons Rooimiere!
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
Baie geluk aan die volgende Rooimier wat pragtig buite skoolverband presteer het:
Johan Harmse, Gr 7F ~ Stoei: Goud in die Noord-Gauteng Jeugkampioenskappe, brons in die Noord-Gauteng Presidentekampioenskappe, en 4de plek in die SA Vrystyl Presidentekampioenskappe behaal, ook Noord-Gauteng Jeugkleure en Noord-Gauteng Presidentekleure verwerf!

~~~~~~~~~~~~~
Onthou asseblief
~~~~~~~~~~~~~
1. ONDERRIGGELD
Onderriggeld vir 2007 is soos volg vasgestel:
• Gr 1, 2, 3, en 5: R400-00 per maand per leerder, bereken oor 10 maande = R4000-00
• Gr 4 R480-00 per maand per leerder, bereken oor 10 maande = R4800-00 (insluitende R800-00 vir die opvoedkundige toer)
• Gr 6 R455-00 per maand per leerder, bereken oor 10 maande = R4550-00 (insluitende R550-00 vir die veldskool)
• Gr 7 R412-00 per maand per leerder, bereken oor 10 maande = R4120-00 (insluitende R120-00 vir die opvoedkundige uitstappie)

Vir enige navrae, kontak asseblief vir Mev Ida Mans by 012-661-5568/9 of debiteure@laerskoolrooihuiskraal.co.za.

Ons doen ‘n dringende beroep op ouers om die KORREKTE VERWYSINGSNOMMER met inbetalings te verskaf.

Ons bankbesonderhede is:
ABSA Wierdapark
Rekeninghouer: Die Laerskool Rooihuiskraal
Tjekrekening: 3260-164-847
Takkode: 632005

Ouers, net die volgende oor die betaling van skoolgeld, na aanleiding van navrae en probleme: Skoolgeld is streng vooruitbetaalbaar voor die 7de van elke maand. Dit is die bepaling op die leerder-inskrywingsvorm wat deur elke ouer aanvaar en onderteken is. Die eerste betaling vir die jaar ~ Januarie ~ moet binne die eerste week van die kwartaal plaasvind. Vir al die ander maande geld die bepaling: voor die 7de van elke maand. Indien die betalingsdatum binne die skoolvakansie val, kan u dit direk in ons bankrekening inbetaal, of binne die eerste week van die nuwe kwartaal. Indien u nie voor die 7de betaal nie, is u skoolgeldrekening AGTERSTALLIG en word dit as sulks hanteer. Indien u enigsins ‘n probleem met die betaling van u skoolgeld ervaar, tref asseblief skriftelik ‘n reëling met die Beheerliggaam, deur Me Ida Mans. Ouers wat nie die verpligte skoolgeld kan bybring nie, is welkom om aansoekvorms vir die vermindering/vrystelling daarvan by Me Ida Mans in te vul. Alle inligting word as vertroulik hanteer. U samewerking in die verband word hoog op prys gestel!

Rooimiergroete!

No comments: