PRESTASIEGEDREWE TEENOOR KINDGEDREWE
Ek moet streef om die beste te wees, ek moet deelneem om te wen, ek moet my talente maksimaal “ontdek” en ontwikkel om die beste te wees.
Wanneer ‘n mens na ‘n “besigheid” kyk en dit met ‘n skool ~ veral ‘n laerskool ~ vergelyk, moet ons waak dat emosie nie soms die oorhand kry nie. Ons werk hier met kinders, grootmense in wording en in vorming.
Hoekom is ouers van “wen”-spanne baie meer betrokke? En selfs indien leerders op hoërskool begin presteer, hoekom sien ons dan ander ouers na vore kom? Eenvoudig: ouers ondersteun hulle kinders. Maar dan is daar ook die ander sy: “betrokke” ouers raak weg as hulle kinders nie meer presteer nie.
Geld en nogmaals geld word ingepomp in sportkompetisies. Net enkele kinders neem in die kompetisies deel en die uiteinde is dat, omdat my “buurman” so maak, moet ek ook. Druk is goed, en die lewe is nie net altyd ewe lekker nie ~ maar hoe ver en hoeveel kan ‘n kind gedruk word?
Te veel klem word op die enkeling geplaas: “Iemand wat wen, moet erkenning kry,” sê ons maklik, maar onthou: in die lewe moet ‘n mens eerder leer hoe om te verloor; hoe om uit te styg op ‘n eerlike, harde manier; hoe om nederig te wees; en as jy bo is, hoe om dit te geniet, maar nogtans te weet dat indien jy onttroon word, jy jou opponente nog steeds in die oë moet kan kyk!
Die Laerskool Rooihuiskraal en sy hele bestuurspan huldig die standpunt dat ons skool ‘n kindgedrewe skool is. Ons het nie net ‘n paar presteerders nie. Ons het bykans 60 leerders wat vanjaar provinsiale en nasionale kleure verwerf het, maar wat belangrik is, is dat AL ons leerders presteerders is!
Lekker week!
Ferdie Maree
~~~~~~~~~
Lief en Leed
~~~~~~~~~
* Ons innige simpatie met Juffrou Henriëtte Roux, met die heengaan van haar
moeder. Mag die Here julle vertroos en versterk.
* Dankie vir die ondersteuning van al die personeel wat die Gr 1 Opedag so ‘n groot sukses gemaak het! Dankie en geluk aan die Junior Revue en spreekkoor wat hul talent aan die Opedag verleen het!
~~~~~~~~~~~~~~~~
Neem asseblief kennis
~~~~~~~~~~~~~~~~
1. WEEKBEPLANNING
Vir die week se gebeurlikhede, kyk op ons kalender.
Baie sterkte aan al ons Gr 4-7s met die leerwerk vir EBW op Donderdag, en NW volgende Dinsdag.
2. MAKROKAARTE
Alle ouers in besit van Makrokaarte: Het u geweet u kan u kaart by Makro se toonbank aan Laerskool Rooihuiskraal koppel? Ons versoek dat u dit asseblief oorweeg, en ook so aan alle vriende en familie deurgee. Dit beteken dat die skool ‘n aansienlike terugbetaling van Makro ontvang elke keer wat u aankope op u kaart doen. Dit is een van die maniere wat ons ons skoolfonds kan laaghou ~ en dit kos u niks!
3. LOSLITDAG
Op Vrydag 7 September vier die Laerskool Rooihuiskraal weer op sy eie manier Loslitdag. Ons reik uit na ons eie behoeftige maats in ons skoolgemeenskap. Jou bydrae van R5 kan en sal ‘n verskil maak! Betaal die geld voor of op 6 September by jou klasonderwyser in. Kleredrag: Jou skoolhemp, ‘n mooi blou denim en jou wit tekkies.
4. GR 1 2008 TASSE
‘n Skooltas, geborg deur Drs Landman, sal verskaf word aan die eerste 100 Graad 1-inskrywings vir volgende jaar!
5. GROEPFOTO’S
Die volgende groepfoto’s word op Woensdag 29 Augustus geneem: Media-leiers, Hokkie o/8-o/13, Rugby o/9-o/13, Krieket o/9-o/13, Netbal o/8-o/13, Tennis o/11 ligaspan, Tennis Oopseunspan, Junior Revue.
Op 24 Oktober sal die volgende groepe afgeneem word: Skolierpatrollie, Landloop, Senior Revue, Leiers, Juniors Spreekkoor, Noodhulpkomitee.
~~~~~~~~
Akademie
~~~~~~~~
1. EXPO
Sterkte aan al die leerders wat aan die Expo by L C de Villiers op Vrydag 31 Augustus en Saterdag 1 September gaan deelneem. Ons hou styf duim vas vir julle!
~~~~~~
Kultuur
~~~~~~
1. POTJIEKOS
Ons jaarlikse Potjiekosdag wat hierdie jaar saam met die Wêreldbeker-toernooi val, wat ook ons tema gaan wees, vind op Vrydag 14 September plaas. Dit beloof om ‘n groot treffer te wees! Beplan vroegtydig om daardie middag en aand lekker saam met ons te kuier ~ die rugby sal op die grootskerm vertoon word en die gees gaan hoog loop!
Baie dankie reeds aan die ouers wat al besig is met die beplanning en organisering vir hierdie groot dag. As u as ouer wil en kan betrokke wees, skakel gerus met u Graadleier, want vele hande maak ligte werk. Etekaartjies is alreeds aan u kind versprei, waarvan 4 kinderkaartjies, en 4 volwasse kaartjies is. Koste is R45 per volwassene en sluit die potjie van u keuse in, bykosse, en ook die optrede deur die gaskunstenaar Nadine Blom. Kinderetes kos R30 per kind en sluit ‘n sosatie, worsbroodjie, en sop in.
Kaartjies moet asseblief teen Maandag 10 September by die klasonderwyser inbetaal wees. Sien u almal daar!
Van die Gr 3-paneel, dankie aan al ons ouers wat so positief is oor ons Potjiekosdag!
2. ENTREPRENEURS
Gr 4-7 leerders wie se portefeuljes nog nie in is nie, moet dit asseblief mooi maak en inhandig voor 2 September, by Juf Marinda Meyer. Dalk is julle die wenner van ‘n week in ‘n hotel saam met jul ouers, en R6000!
Gr 2-4 leerders wat as Top Entrepreneurs gekies is, hou hulle mark op Vrydag 7 September 2007, van 08:00-08:45. Uitpak van die tafels gebeur van 07:45-08:00. Kom doen baie moeite! Neem foto’s vir jou portefeulje, wat op 14 September by Juf Marinda Meyer in moet wees. Die ABSA/ATKV-kompetisie sluit op 18 September. Daar word 12 streekwenners landswyd gekies, wat elk R1000 wen. Kom, Rooimiere, ons kan dit weer doen, net soos in die verlede!
Elke stalletjie word ook beoordeel vir ons skooltrofees aan die einde van die jaar. Ons kyk na:
~ beste bemarker
~ mees entoesiastiese entrepreneur
~ oorspronklikste entrepreneur
~ beste naam van stalletjie
~ Junior Entrepreneur van die Jaar
3. DIE VOORTREKKERS
Rooihuiskraal Kommando
Survivor Piekniek! - Uitnodiging
Aandag: Graad 3’s - Kom speel saam op 1 September om die amptelike begin van lente te vier. Bring jou span na die Laerskool Anton van Wouw en kom wys ons hoe goed julle is. Die pret en spele is die hele oggend aan die gang van 9vm tot 12-uur. Ons het alles van klim-muur, eiergooi tot slip en slide waar jou span kan wys wat in hul sit. Inskrywings kos slegs R10 per persoon. Vir meer inligting en om saam te kom kuier, skakel asseblief vir Jos Botes – 082 3945 695.
Onthou: Kommando Vergadertyd en Plek:
Elke Woensdag vanaf 17:15 tot 18:15 – Gereformeerde Kerk Rooihuiskraal
In Panorama ry oor Rooihuiskraalweg na die Spar (Reeds). 1ste straat na robot, draai regs in Strandloper, reguit aan, draai links in Petrell. Kerk heel onder aan linkerkant.
Kommando Kontak nommers
Theressa 084 584 6144
Faks: 012 661 9047
Epos: estelle@gpt.co.za
4. REDENAARS
Baie geluk aan die volgende redenaars met hul puik uitslae tydens die eerste Radikale Redenaarsfees 2007:
« Rachelle Venter ~ 84%
« Denise Bezuidenhout ~ 82%
« Esmerelda Heuer ~ 87%
« Quingelique Ellis ~ 84%
« Anica Fouché ~ 92% (Afdelingswenner!)
« Zhanri Klopper ~ 82%
In die volgende nuusbrief plaas ons Eliska Wentzel en Theo Landman se uitslae!
~~~~~
Sport
~~~~~
1. HOKKIE
Dit is nou maar wors: Laerskool Rooihuiskraal kan hokkie speel. Dit het ons meer as een keer hierdie afgelope Saterdag bewys! Nie net het die o/12’s altwee hul wedstryde, 3-0 teen Menlopark en 1-0 teen Die Poort, gewen nie, die o/13’s het ook hulle wedstryd teen Riviera 2-1 gewen. En moenie die o/10’s vergeet nie: die o/10A’s het aldrie hul wedstryde gewen, die o/10B’s het aldrie hul wedstryde gelykop 0-0 gespeel, en die o/10C’s het 1 gewen, en 2 gelykop gespeel. Die o/8’s het ook gespeel en een van hul 5 wedstryde gewen; die ander was hulle met trots tweede. Hokkie Bokkies, julle was absoluut fantasties!! LAERSKOOL ROOIHUISKRAAL IS TROTS OP JULLE!
Aan Mnr Ferdie en al die ouers wat ons dogters ondersteun het hierdie naweek, BAIE, BAIE DANKIE! Dit was heerlik om julle saam met ons daar te hê, en te hoor met hoeveel ywer julle ons speelsters ondersteun. Julle is net so ‘n belangrike deel van Rooihuiskraal se hokkie.
Daar is nog ‘n hele paar dogters wat nie hulle inskrywingsgeld betaal het nie!! Onthou asseblief om te betaal. Dis net een keer R15.
Ons laaste wedstryde is om die draai. Sterkte aan almal wat Saterdag speel, ook aan die o/13’s wat hul laaste wedstryd vir die seisoen speel. Al die dogters speel Saterdag by Rietondale Sportgronde. Julle sal die nodige inligting kry sodra ek dit het.
Hokkiegroete, Juffrou Jennie
2. BEVCRIC
Die Bevcric (Rooihuiskraal Krieketakademie) o/7- en o/8-spanne oefen elke Woensdag om 17:00. Kontak Hannes Maasdorp by 083-337-8025 vir navrae.
3. TENNIS
Die o/11 seuns ligaspan het Maandag teen Hennopspark gespeel en 17-38 verloor. Vasbyt!! Die oopseunspan sal later teen Bakenkop speel.
AANDAG ALLE GR 4-7 TENNISSPELERS:
Almal wat afrigting kry of tennis kan speel, julle is welkom om te kom oefen op die tennisbane by die biblioteek, Donderdae vanaf 14:00-16:00. Ek is juis op soek na spanne vir die liga in Februarie 2008. Kom asseblief!
Groete, Juffrou Amanda Prinsloo
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
Ons is trots op ons Rooimiere!
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
Baie geluk aan die volgende Rooimiere wat pragtig buite skoolverband presteer het:
* Mariet Bacon, Gr 4 ~ Tuimel: Gekies om as lid van die Noord-Gauteng tuimelspan aan die SA Gimnastiekspele deel te neem.
~~~~~~~~~~
Snoepienuus
~~~~~~~~~~
Ons hou Vrydag ‘n Steers-dag vir Lentedag. Kom koop jou kaartjie by die snoepie vir slegs R20. Jou pakkie word Vrydag by jou klas afgelewer. Moet dit nie misloop nie! Kaartjies is slegs beskikbaar tot Woensdag by die snoepie.
~~~~~~~~~~~~~
Onthou asseblief
~~~~~~~~~~~~~
1. ONDERRIGGELD
Onderriggeld vir 2007 is soos volg vasgestel:
· Gr 1, 2, 3, en 5: R400-00 per maand per leerder, bereken oor 10 maande = R4000-00
· Gr 4 R480-00 per maand per leerder, bereken oor 10 maande = R4800-00 (insluitende R800-00 vir die opvoedkundige toer)
· Gr 6 R455-00 per maand per leerder, bereken oor 10 maande = R4550-00 (insluitende R550-00 vir die veldskool)
· Gr 7 R412-00 per maand per leerder, bereken oor 10 maande = R4120-00 (insluitende R120-00 vir die opvoedkundige uitstappie)
Vir enige navrae, kontak asseblief vir Mev Ida Mans by 012-661-5568/9 of debiteure@laerskoolrooihuiskraal.co.za. Ons doen ‘n dringende beroep op ouers om die KORREKTE VERWYSINGSNOMMER met inbetalings te verskaf.
Ons bankbesonderhede is:
ABSA Wierdapark
Rekeninghouer: Die Laerskool Rooihuiskraal
Tjekrekening: 3260-164-847
Takkode: 632005
Ouers, net die volgende oor die betaling van skoolgeld, na aanleiding van navrae en probleme:
Skoolgeld is streng vooruitbetaalbaar voor die 7de van elke maand. Dit is die bepaling op die leerder-inskrywingsvorm wat deur elke ouer aanvaar en onderteken is. Die eerste betaling vir die jaar ~ Januarie ~ moet binne die eerste week van die kwartaal plaasvind. Vir al die ander maande geld die bepaling: voor die 7de van elke maand. Indien die betalingsdatum binne die skoolvakansie val, kan u dit direk in ons bankrekening inbetaal, of binne die eerste week van die nuwe kwartaal. Indien u nie voor die 7de betaal nie, is u skoolgeldrekening AGTERSTALLIG en word dit as sulks hanteer. Indien u enigsins ‘n probleem met die betaling van u skoolgeld ervaar, tref asseblief skriftelik ‘n reëling met die Beheerliggaam, deur Me Ida Mans. Ouers wat nie die verpligte skoolgeld kan bybring nie, is welkom om aansoekvorms vir die vermindering/vrystelling daarvan by Me Ida Mans in te vul. Alle inligting word as vertroulik hanteer. U samewerking in die verband word hoog op prys gestel!
Rooimiergroete!